Strydliefde - AC (2018/10/18)
Wat sal mens ooit kan verstaan
van die seer wat mens verteer

Van die onnodige weerstand
Wat onsekerheid verbrand

Wanneer rukwinde die hartstof
Oor die sonsonder uitstrooi

Wanneer al Appelblou se liedjies
So relevant mens aanhou knou

Selfs in die ewige rou

Wat is die kanse om heel aan te hou
En aan Godgegewe seëninge vas te klou

Mens raak sterk
Sterker as die vyand
Vinniger as die koeël
Hardkoppiger as 'n byenes
Oopgekrap maar slaggereed
Jy leer om te voel

Soos verfbalwonde
Seervergeetlik deel van jou

Soos die geswolle timus
Wanneer die malaria jou beetkry

Die prys van geluk is duur
En vertrouenswaardigheid soveel meer

Maar mens sal nooit leer
Mens bou op hegte snoere
Skiet met roere skouer aan skouer
Kouer en kouer die nagure deur

En klou vas aan die mooi
Wat binne vuurwarm brand
En deel dit met die een
Wat jou hart verdien

Al is dit in stukke
Na al daai snikke
Is dit die pad
Lank in die stof

Diep in die hart

Bakoor - AC (2017/07/15)
Op verpligte vlugte
Roer die stilte soveel gerugte

So glimlagglinsterende sonsopkoms
onder 'n troos 'n vlerk
Verstaan mens nou?

Selfs na die bedwelmende
stikgietdonker nagkou
Breek daardie horison
se winterkombers
en jaag die ysige mis wat dans
'n Vlinderfeetjie vol blink ogies rond

Dis jý.

Ons vergeet maar van
gesteelde karre
gesteelde fietse
geskeurde hemde
en dikvellige mense

So stap 'n karakter aan die Natalstrand
met verlangende hand en
'n skouer wat net so bietjie
van daai aanlê smeek.

Op die spoor
van verlore vriendskap, verlore tyd
maar dis hoe mens leer verstaan.

Blinkste klippe en 'n koffie
'n tee
'n koffie
Vreemdelingresiger in Samaritaanhande
Dankie is nie genoeg nie.

Maar die aanskuur die nagure in
duur voort.
Brak ontwyk.
'n Lewe gespaar.

Maar net vir die oulik
daar deur die Goue Poort
draf die bakore al luisterend
voort.

Inspireer my om berge te verslaan
Derduisende dekselse knapsekêrels
die loef af te steek.
Loop my oor 'n mik om die
slote te ontlont.

Maar op die pad net toe die
droogbek winter knagend raak.
Verskyn daar uit die bloute
'n bergtop windpomp
wat water van aarde skei
soos net 'n Skepper kan.

Bakoor sal ek luister
En stywe stywe drukkies fluister
Jy mensie moet net jou toespits
en myrabele woordjies sal dalk
hul vlug tot by jou oortjies vind.

Verlate rate - AC (2017/05/30)
Verlate rate val vêr
oor skemerkoue
nimmermeer.
Hier in die tronk
is 'n hart
vasgekeer
uitgemergel
sonder keer.
Wyk hul speletjies dan ooit?

Al wat wonder;
Is die wonderlike jý
orraait?
Hier langs die voetheuwels
Hemels
het die mis verys
net daar waar die stofwolk
'n warrelwind
nie eens sy draai
kon vind.

Oneindige stegies
maalkolke van verlang
en soek
na die liefde
wat gloedig
twee rooi wangetjies
pamperlang.
Sien tog uit - leef voluit
Asseblief jý - gawe die gawes
uit soos jý - net jý
kan.

Deur geloof
deur respek
deur integriteit
en trots
seëvier die liefde
deur en deur
soos die rots
waarop jy sit
beeldskoon onvoorpots.

Korrels - AC (2017/04)
As jy ooit wonder
waar jy jouself bevind.
Dink tog aan 'n liedjie bemind.

Daar is net hardloop
aan die strand se wand.
En inspirerende note wat klink.
Van uitkyk oor die wit perdjies
vlam
buoy
aan't

In al daai sand is
daar een kans op hoop
Hope vol mooi drome
Van twee verlore siele
wat mekaar bind hand
aan hand

Stap maar jou
spore diep in die land
want snags as die krieke
stil swyg hang daar
altyd maar so paar
sterre daarbo.

Jou hart is betower -
jou handjies tas rond
in fyn druppels
mistige reën.

Wees asseblief tog glimlagbly.
Iewers langs die pad sal hy jou kry.

Spokie - AC
Jý spokie

Jý né, wat in elke droom
elke gedagte by my kom spook
elke oomblik vasgevang in jou
onweerstaanbare strikkie...

Jý wat my onverwags net
keer op keer
herinner dat my
beheer al lankal
al die pad gevat het. 
 
Die lang pad bos toe
Die lang pad op en af
met die taaiste bulte
wat die stad ooit kon
wens om op te lewer
en dan nog steeds aanmaan...
dat dit kan beter?

Die lang pad anderkant
die Mooinooi waar dié
mooisté nooi brilloos bene
regmaak vir die vinnigste blinde
dubbelom wat jý jou kan indink.

Jy wat hier naas my skouer kom
lieftallig kussing maak al blaas jy
nog spookasem soos 'n arme
wesie aangewese op net
jou beste gee om jóú
vryheid in te palm.

Verlore in jou droomverhaal
vol van onverklaarbare toordery.
Ook elke ding heeltemal andersom
Mes en vurk,
woord en prent,
skiet en aanlê aan
my sy, ai jý - hou net aan baklei!

Reën - Bosmeisie
Wolke met skakerings
van herinnering en verlange
wat stuk-stuk versigtig aan mekaar raak...
Totdat die aantrekkingskrag oorneem
en daar gevlerksleep word met 'n stywe omhelsing.
'n Skielike verblindende lig -
vinnig, onvergeetlik, asemrowend...

Die druppels val
een-een- vir een
gevolg deur 'n gerinkink op die sinkplaat dak
Alles in harmonie
soos vingers oor die note van 'n klavier

Al trou jakkals met wolf se vrou
Speel natuur hierdie fasinerende melodie.
note wat troos
note wat kalmeer
note van pure genot...

Die betonoerwoud raak weg,
terwyl dapper vuurwarm kaalvoet tone
een word met yskoue modder-poele.
Jou hart bewonder die ritme
en jy bevind jouself gelukkig,
papsopnat en besig om te dans.

'n Reënboog wat deurskyn as herinnering...
Nuwe lewe ontvlam met 'n nuwe begin.
En ons moet koffie drink soos die kan hom skink.

Watermuis - AC
Die Volkies van die verre Oos-Transvaal
Meen dat daardie huisies wat
Diep onder die vloedige water skuil
Eens op 'n tyd mooitjies voorberei is
Vir hom wat onder die water woon.

Die grote damme tussen die berge
fraai het almal hierdie legende gebaar.

Al wat daar onder groei is vis,
alg en watergras...

Maar wat sou die
dan kou,

bitterkaas?

Dit is dalk half watermuishondnaam,
maar geen hond word hier haaraf
gemaak nie. Hulle bang hom soos nag!
Sy Huis onderwater is groot in prag.
Lank voor dambouer se droom kon
vaar.

Vrees is tog so groot soos die
gedierte in vlees. Kan dit dalk 'n
verdwaalde seekoei wees? Wat in
lang stroke V loop soos hy op
die bodem baljaar.

En dan met twee ogies ver uitmekaar
daai koppie met die
twee koddige Oortjies draai
na die  niksvermoedende
dameiland vissermans wat kaplaks
'n vistok laat
dat die katrol
homself bemodder
maak.

Pasop maar
vir die Watermuis,
Die stories
is dalk lank
van stert
maar
die wie
nie
wegloer
nie
se
lewetjie
kort
van
draad.

Trooswatte - AC
'n Traan uit die wit wit watte
Eensklaps 'n bliksemstraal.

Maar wag daai woorde. Daai lied.
Wat deur die susreën weergalm
Oor stilte. Nou sous dit eens.
Kan nie keer nie en die mis trek toe,
nie eens 'n sonstraal dring deur nie.

Dankie vir dit wat voed en verkwik
en als wat deurspek van mozzerella
tog bittersoet hierdie siel hernu.

Vas vas sal ek klou aan die seerste
bobbejaan tou, en kerf wat in die pad is;
hierdie oerwoud sal ons deur.

Daar langs die verskanste poel waai
die wind skerts maar kalm aan die
dryfmis - op die water heen speel
'n stil stil deun.

Het jy dan jou identiteit gevind -
jou dryfveer in die stryd?
Een van die dae sal jy
lagkry aan die verlang,
angel wat voete laat swel
soos harte wat kwel.

Als is nodig en tog so onnodig.
Maar nou. Hier is dit hef in die hand,
ai hierdie land. So mooi maar bevrees?

Vir wat?

'n Wetterlike weerligslag wat
wetter uit die wit wit watte?
Alweer?

Aggenee...

In die kern van 'n warrelwind - Bosmeisie
Wéét jy dat ek verlang
na ons gesprekke, liefdes kyke,
oë wat verstaan,
die oomblik in ons drukkie,
met my kop teen jou wang?

Ons samehorigheid is 'n kuns
onverklaarbaar, uniek
met gedagtes in samewerking
soos die maan met die sterre -
doen die lewe ons 'n guns...

Ek sien jou in die natuur se prag,
jou kamera gereed,
jou sak gepak
en daar tussen die bome
sit jy glimlaggend vir my en wag.

In die kern van 'n warrelwind
is die wêreld aangenaam,
dis jóú effek op my.
Ek en jy het mekaar gevind
in die wêreld se warrelwind...

Bosvlam - AC
Fyn klein peper jy,
Die woorde, die glimlag,
Die styf-styf vashou
aan my? Wat wonder ek
Het ons hier staan gemaak.

Dat so klein bietjie liefde
so diep kan raak. Jy is so
onmoontlik om te vermy
so onmoontlik om verby te kyk
so onmoontlik Moeilik.

Jy sien die onsigbare en tog
wys jy niks - bog
Tot ek langs jou gaan sit
Dat so baie omgee in so
lyfie kan pas netso.

Té veel tralies
Té veel mure
Té veel wagte
En aangegiste sure.

As jy maar net kon spring
tot anderkant die Bewermaan
en daai lieflike stem
soos 'n lem
laat sidder.

Jy begin soms saggies sing
net hard genoeg dat die hartsnare
in ritme moet bybly.
Weet jy, eintlik is jy vry!

Bosvuurvlamme,
aangehits deur warrelwind
goed gesoute veldkos
Sy aan sy aan sy is aan

die brand.

I can't quite get you - AC
I can't quite get you
out of my head
I can't quite get you
out of my heart

We've set this
car into motion
Devotion
or entangled
in notion?
Getting so close it's off
the charts
Dangling on a piece
of string
Ever, ever
be there some
equilibrium
Hold on, hold on
for what it's worth
is more, is more
than we can handle
on our own.
Oh how we moan
too soon
too much
too fast.
Stop, relax and catch.
Loaded hook and cast.

I can't quite get you
out of my head
I can't quite get you
out of my heart

Let's drive
until the lights
come out to play
and stay.

Skrikbang bergies - AC
As bergies kon bangwees
en pikkewyne kon vlieg
sou dit reën
in die winter
en wolkies sou val.

As drukkies kon heelmaak
en kyke kon verlam
was jy aan die anderkant
van 'n merske dam.

As kathare kon skuil
in neusies wat kielie
en glimlaggies kon sny
soos 'n lepel deur jelly
was jy naby
selfs in die ver
daar waar die swart skapies blêr.